| karooinfo.com |
|
|
Die "Encyclopædia Britannica" inskrywing teenoor Karoo lees: "..... arid to semiarid geographic region
of Eastern Cape, Western Cape, and Northern Cape provinces, South Africa. The Karoo is best defined by its vegetation,
which consists of assorted succulents and low scrub bushes spaced from one foot to several feet apart. The area is
devoid of surface water, and its name is derived from the Khoisan word meaning 'land of thirst' ..." Kritzinger se Verklarende Afrikaanse woordeboek kry dit reg om die Karoo in slegs 10 woorde te beskryf: "Tafelland in die Kaapprovinsie, gekenmerk deur lae reenval en bossieveld" Ons gevoel oor die Karoo is baie sterker, en met hierdie webblad gaan ons poog om u bietjie meer te laat beleef van 'n omgewing wat bewoon word deur warm, vriendelike, gasvrye mense...'n gebied wat koud is gedurende die nag...met ongelooflike natuurskoon...wat uiters hard is...wat 'n rykdom van plant, dier en voëllewe het...wat baie warm kan word in die somer...en soveel meer. Die Karoo is geleë op 'n plato wat wissel van 400 tot 2000m met die grootste gedeelte by ongeveer 1200m bo seevlak. Met 'n oppervlak van sowat 400,000 vierkant kilometer is dit effens groter as Duitsland. Die Karoo kan verdeel word in die Tankwa- en Klein Karoo(winter reenval streek) asook die Groot- Bo- en Noordelike Karoo (somer reenval). 300miljoen jaar gelede was die Karoo 'n massiewe moerasgebied met baie dierelewe. Oor tyd het temperature gestyg wat omringende gletsers laat smelt het wat op hul beurt sediment in die moeras deponeer het. Baie van die diere het gesukkel in hierdie ongewone warm toestande en het by die moeraswater saamgedrom. Sommige het vasgesit en is daar dood. Meer sediment is deponeer wat van die diere bedek het en op die manier fossiele geskep het. Vandag word die Karoo se fossiele wêreldwyd erken as die volledigste bron van bewyse van die oorgang van reptiel tot soogdier. In meer onlangse tye was die eerste inwoners van die Karoo die Boesman of Khoisan. Hierdie jagters van ouds het 'n primitiewe bestaan gevoer en het wild gevolg van een bron van kos/water na die volgende. Hulle was selfonderhoudend en totaal afhanklik van die natuur vir hul oorlewing. As gevolg van die oorvloed wild het hulle nie diere aangehou of die land bewerk nie. Die vrugte, bolle en selfs bas van inheemse plante het gedien as aanvulende voedselbron en het ook in hul medisinale behoeftes voorsien Met hul stamina en uithouvermoë het hulle deur groot gedeeltes van die Karoo getrek. Op die plekke waar skuiling gesoek is het hulle 'n artistieke rykdom nagelaat. Rotsgravures en tekeninge vertel aan ons die verhaal van hoe die Karoo gelyk het toe die wêreld aan die Boesman behoort het. Die Karoo in besonder is ryk aan rotskuns wat sowat 'n halfmiljoenjaar se geskiedenis uitbeeld. Veral die laaste 10,000 jaar se kunswerk het beter behoue gebly en versier die wande van grotte en ander skuilplekke. Toe kom die trekboere en die rustigheid van die Karoo het begin verdwyn. Laat aankomelinge in die Karoo was Xhosa veeboere. Hulle het hoofsaaklik gevlug vir die stamoorloë in die Oos-Kaap. Dit het gelei tot gedurige botsings tussen die onderskeie groepe wat almal behoefte gehad het aan die een skaars item in die Karoo - water. Meeste van die botsings in die Karoo het ontstaan oor weiding en water, 'n uiters skaars item in hierdie warm, harde wêreld en beide mens en dier was afhanklik daarvan. Dit spreek vanself dat die wat die water beheer het, het die land beheer. Soos wat die trekboere en ander setlaars inbeweeg het, het die wild noordwaarts beweeg. Roofdiere, die Khoisan en selfs die slawe wat van die Kaap gedros het, het nou meer aandag aan die makliker bekombare vee van die trekboere geskenk as bron van voedsel. Ander individue wat deur die Karoo beweeg het was avonturiers, jagters, ivoor handelaars, maar so ook wapen smokkelaars, drank handelaars en andere. Selfs die Boere Oorlog het tot heelwat aksie in die Karoo gelei. Vandag is die Karoo baie meer vreedsaam. 'n Bestemming wat deur menige vermy word, maar die wat tyd maak om dit te besoek kan nie uitgepraat raak nie. |