| karooinfo.com |
Die Amerikaanse 'Conservation International' identifiseer biodiversiteits "hotspots" as daardie gebiede waar meer as 1500 endemiese plante voorkom. Net twee sulke gebiede kom in Suider-Afrika voor. Die een is die Kaapse Blommeryk terwyl die ander een bekend is as die Vetplant Karoo Bioom. Hierdie gebied sluit in bewaringsgebiede soos die Tankwa Karoo, Nakakwa en Richtersveld Nasionale Parke. Die Vetplant Karoo ekosisteem is al as die wêreld se ongelooflikste woestyn beskryf en is ook die enigste biodiversiteits "hotspot" wat in totaal droë gebied voorkom. Die aantal plantspesies is onge-ewenaard vir 'n gebied van die grootte en meer as 40% van die plantspesies is endemies. Meeste is vetplante - dit is plante wat bestaan uit dik, vlesige materiaal waarin water gestoor kan word. Meer as een derde van die wêreld se 10,000 vetplantsoorte groei in hierdie gebied. Die gebied strek langs die Atlantiese Oseaan, vanaf die suid-weste van Suid-afrika, tot in die suide van Namibië. Die Vetplant Karoo "hotspot" beslaan sowat 116,000 vierkant kilometer van hoofsaaklik woestyngebied. Dit spog met die wêreld se rykste erfenis van Vetplante asook 'n hoë bevolking reptiele en ongewerwelde diere. Hierdie "hotspot" word bedreig deur verskeie en verskillende gebruike van die land, hoofsaaklik oorbeweiding, volstruis boerdery, mynbou asook die onwettige versameling van plante en diere vir handelsdoeleindes. Daar word vermoed dat enige klimaatsveranderinge 'n ernstige bedreiging inhou vir hierdie gebied. |