| karooinfo.com |
Die Nama Karoo Bioom bedek die sentrale plato van die westelike helfte van Suid-Afrika met hoogtes bo seevlak wat wissel tussen 1000 en 1400meter met 500m en 2000m as laagste en hoogste punte. Dit is die tweede grootste bioom in die Suider-Afrikaanse gebied. Hierdie bioom se grense word hoofsaaklik bepaal deur die reenval. Reenval kom hoofsaaklik in die somer voor en wissel tussen 100 en 520mm per jaar. Die onderliggende geologie varieer baie terwyl meer as 80% van die gebied bedek is met kalk-ryke maar swak ontwikkelde grond oor rots. Minder as 5% van die reenval bereik riviere terwyl oorbeweiding bydra tot 'n hoë voorkoms van erosie. Plantmateriaal bestaan hoofsaaklik uit gras en klein stuikgewas. Gras kom hoofsaaklik voor op sanderigge grond en in leegtes en minder op klei grondtipes. Beweiding veroorsaak dat struikgewas vinnig toeneem. Meeste van die grasse is van die C4 tipe en, soos die struike, sal reenval die voginhoud beinvloed. Veldbrande kom nie algemeen in hierdie bioom voor nie, hoofsaaklik as gevolg van die lae brandstofinhoud van plante. Die groot troppe Springbokke wat in die verlede hier voorgekom het, het verdwyn. Soos die baie voëls in die gebied, hoofsaaklik lewerike, het hulle waarskynlik getrek tussen kolle reenval binne die bioom. Die Bruinsprinkaan kom ook in groot getalle voor na die voorkoms van sulke ideale reenval toestande en lok dan ook groot getalle voëls en ander roofdiere. Minder as 1% van die bioom word bewaar in amptelike bewaringsgebiede. Algemeenste indringer spesies is die Turksvy (Opuntia aurantiaca) en Mesquite (Prosopis glandulosa). Impak op die gebied deur verstedeliking en landbou is minimaal terwyl besproeing toegepas word slegs langs die Oranjerivier en in enkele beperkte areas waar voldoende ondergrondse water beskikbaar is. Die grootste deel van die gebied word gebruik as wieding, hoofsaaklik skape en bokke wat nie noodwendig nadelig is vir bewaring nie. Oorbeweiding is egter 'n probleem, veral vir sekere van die gras en ander eetbare spesies terwyl die Driedoring (Rhigozum trichotomum), Soetdoring (Acacia karroo) en Bitterbos (Chrysocoma ciliata) daarop floreer. Daar is min Rooi Data plantsoorte in die Nama Karoo Bioom. Die potensiaal vir tradisionele toerisme is nie baie hoog nie. Mynbou is belangrik in hierdie bioom. Meeste van die navorsing rondom hierdie bioom is aan die ooste van die gebied gedoen, hoofsaaklik by die Grootfontein Landbounavorsingstasie net buite Middelburg. |